More

    What’s in a name

    Mens se naam is betekenisvol, mymer Danie Botha. En dan hardloop sy gedagtes ver ente deur die land en deur gesprekke. Net nou die dag sê ‘n vriendin vir hom, “Wee’ jy, ek dink volgende jaar word daar ’n paar nuwe babas met interessante name gedoop. Name soos Covidia, Covinia of Covilette.”

    Danie Botha. Foto: Verskaf


    Reeds in Shakespeare se tyd het Juliet gewonder oor die betekenis en waarde in ’n naam, en selfs vandag nog sal ons soms sê “What’s in a name”. Natuurlik het die betekenis van Juliet se versugting sekerlik al deur die eeue aangepas geraak, alhoewel mense soos ek steeds wonder oor name, hul oorsprong en hul waarde vir my en ander.

    Dit is gewoon so dat name vir plekke en mense my nog altyd interesseer. Dink maar aan Kanye West en Kim Kardashian se North. Hoe besonders. En waar kry Grootdrink en Lekkersing húl name, of Karos waar my ma as kind naby Leerkrans en Upington grootgeword het sýne?

    Name vertel dikwels ’n stukkie iets omtrent iemand. Nee,’n naam vertel meestal sommer báie omtrent iemand of ’n plek. Jy wéét Glaudina Aletta Maria Johanna en Lucy Margaret of Bridgid Eugenie, of Mary-Lou, kan onmoontlik nie uit dieselfde register stam nie. Adriaan Johannes Jakobus en Pete Ainsley Warburton ook nie. Die een hou vakansie en braaivleis by Hartenbos en die ander een gaan die sononder met ’n langsteelglas waarin die vonkelwyn fyn borreltjies maak op die dek van die Queen Mary tegemoet. Elke dorp het sy eie Tommie Tjops, Pieter Pille of Barend Barfight. Die naam sê dit. Wel, dalk nie elke keer nie, maar so min of meer.

    En wat van hierdie een in Die Burger waarvan ek ’n tyd gelede lees dat ’n paartjie en hul dogtertjie in hul opslaanhuis in Moeggesukkel doodgebrand het. Moeggesukkel is volgens wat ek gaan naslaan het, ’n plekkie by Centurion. Moeggesukkel, amper soos ’n voorbode, een wat sou kon voorspel die inwoners is óp van die sukkel, dat die ironie in die naam dalk maar gewoon die tragedie van daar dood te brand vooruit sou kon loop.

    Ry jy klein ente deur die platteland, dan val dit jou op dat Die Vet Spens tussen Ceres en Worcester regtig vet spanspekke, en perskes, en druiwe en ander vet vrugte op sy stoep uitstal. Die omgewing is Desembers vol somerbelofte: warm, vrugbare dae vasgehou tussen die blouste blou berge wat groot geseёnde valleie omarm en beskut, berge wat blou sirkels om ryp boorde trek, berge wat in die wintermaande wit teen die hemel uitklim.

    Regs van jou, êrens naby Worcester draai ’n klein pad uit en dui die padpredikant Nonna en De Wet aan. Wie was die oorspronklike De Wets wie se naam jou op hierdie padbordjie in ’n rigting beduie? Dalk ’n lekker Google-oefening later. Of Nonna, en waarom staan haar naam op ’n rigtingwyser? Dalk toentertyd die jonkmanne van die distrik op hol gehad? Of iemand se goewernante destyds, of die meisie van wie ons in boeke lees dat sy in haar liefde verlaat steeds snags in ’n wit gewaad in die omgewing dwaal en honde onverklaarbaar laat knor, portrette van mure laat afval en staanhorlosies om middernag stil maak? Lekker verbeeldingsvlugte.

    En Die Pampoenstalletjie op die R60 tussen Worcester en Robertson? Natuurlik ja. Rypes en geles en groenes en kleintjies en grotes . Van hulle word sommer op die dak uitgestal omdat die stoep alleen nie groot genoeg is nie en die oes, soos baie jare, baie lorries gaan volpak. Vir seker gaan jy hier kom stilhou met ’n volgende reis, weet jy.

    Op die R317 tussen Robertson en Bonnievale naby Van Loveren kry jy rye en rye en rye van die heel mooiste rooi en geel en oranje kannas kilometers ver. Soos ’n ou oom nou die dag vir my sê: Die lieflikste kênnas wat die liewe Vader ooit in die grond kom druk het.

    Op pad Napier toe gaan jy die Sonderendrivier by Stormsvlei oor en sien die lig in duisende diamantstukkies op die water breek. Sonderend? Sou dit in die ou dae die langste rivier gewees het waarmee die trekkers te doen gehad het? En Napier se naam is ’n ander storie. Stukkie geskiedenis: Michiel van Breda en Pieter Voltelyn van der Byl kon nie ooreenstem oor waar die kerk gebou moes word nie. Hardekoppe albei. Elk wou die kerk op sý grond laat oprig, en nie een wou bes gee nie. Die oplossing? Bou twee kerke en stig twee dorpe, Bredasdorp en Napier. Laasgenoemde vernoem na die destydse Kaapse goewerneur, Sir George Thomas Napier.

    Die Overberg maak voor jou oop en jy weet waarom iemand sy plaas Dankbaar of Uitkoms noem as jy dink aan Julie en Augustus se groen koringlande en geil, geel kanolaplate.

    En nuwe name? Tergenderwys sê ’n vriendin nou die dag vir my: “Wee’ jy, ek dink volgende jaar word daar ’n paar nuwe babas met interessante name gedoop. Name soos Covidia, Covinia of Covilette. Of so.

    Danie Botha is ‘n skrywer en taalpraktisyn wat op ‘n plaas buite Napier woon, naby bome waardeur die wind suis. Soms is daar ‘n brand. Soms is daar ‘n slang op die stoep. Dit kom met die terrein, wat storie verteller-terrein is. Jy kan Danie Botha volg op Facebook of hom kontak op sy webwerf Danie Botha Language Services Taaldienste.

    Latest

    Hemingways Bookshop’s new chapter

    Hemingways Bookshop in Hermanus is celebrating its 25th anniversary this month. And it is doing so in the style that people have become accustomed to.

    If you’re a Braai Boet, head over here

    If you love a braai you'll probably enjoy the various braai threads on our Forum. The Faniebraai braai thread has a story to it. It's named after the late and much missed Faniebraai, who has been described by one of our Forum members as "larger than life.

    The grandeur of simple things

    Bredasdorp artist Weyers du Toit's paintings of humble objects take them to another level.

    Ek ruik ‘n rot

    Daar is 'n geheimsinnige indringer in haar hoenderhok, skryf Lise Beswick. Sy't 'n foto van die tonnel in die grond geneem. Is dit 'n vriend of vyand? Sy wens sy't 'n hoender- tolk sodat sy kan verstaan wat haar hoenders sê oor die wese.

    Water of Vodka…

    Was daar water of wodka in die ketel? Vind uit in hierdie heerlike storie deur die digter-sjef Zane Beswick.

    Clare Menck’s lyrical evocation of childhood

    Lockdown has not killed the arts. Well-known artist Clare Menck had proof of that when her art works sold briskly at a group exhibition in Rosebank, Cape Town, this weekend. The exhibition can still be viewed by private appointment.

    Bring on the magic potion! We’re gatvol of the virus!

    Lockdown diaries: Where is Getafix the druid when one needs him?

    Tippie Enslin se gebakte pere met heuning en balsamic

    Winter inspirasie: Tippie Enslin se gebakte pere is mooi genoeg om te skilder, en lekker daarby.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.