More
    Home Afrikaans Van die mense op ons pad

    Van die mense op ons pad


    Danie Botha skryf aangrypend oor sy jongste uitreis en die mense wat hy raakgeloop het. “Net buite Napier stap hy. Ek het hom al ’n duisend maal gesien, maar ek ken nie sy naam nie. Die een met die droomoё en die vae uitdrukking op die gelaat.”

    Danie Botha. Foto: Verskaf

    Aanvanklik was dit moeilik, maar mens leer aanpas. Soos by alles. ’n Nuwe leefstyl, ’n nuwe omgewing, nuwe omstandighede soos na die verbrokkeling van ’n verhouding, na die dood van ’n nabye maat, soos by die seisoene soos hulle draai.

    Jy raak gewoond daaraan om net op sekere ure te mag oefen, om nie by vriende te kuier nie, om die dood van ’n geliefde wat alleen in ’n hospitaal sterf omdat die wet sê jy mag nie daar wees nie, te probeer verwerk. Soos Beau Brummel nou die dag. Soos die telkens bekroonde skrywer van klassieke Afrikaanse werke Elsa Joubert. Sy was wel toegelaat om ’n paar dae voor haar dood haar seun vir ’n wyle te sien waar sy in ’n Covid-19-saal op die laaste lê en wag het. Soos so vele die afgelope tyd. Maar jy probeer ook om, wanneer jy mag, uit te kom. Sulke klein uitreise te onderneem. Soos ek graag doen wanneer ek kan.

    My lewe tussen die bome waar ek woon, gee my baie dinge wat ek wil hê, selfs al mis ek die ooptes en die geur van karoobos. Die stilte hier, die vrede, die bome waarin voёls gesels, waarin die winde geheime met mekaar deel, dit gee my baie tyd om te dink. Maar tog. Ek hou van uitkom. Mense te sien, dop te hou, al praat ek nie altyd saam nie. Dis waarom ek graag by koffiewinkels sit en met bekendes saamgesels oor die mense en dinge van die dorp, oor wie nou weer gewat het en so.

    En om op die paaie uit te ry. Ek doen dit veral Sondae. Maar nou is mens ingekerker en wag jy vir ’n weeksdag om die buurdorp te besoek vir so ’n paar inkope, om ’n nuwe battery vir jou selfoon te gaan kry, by die bank ’n draai te maak, te kyk wie die mense is wat vandag wat jou pad kruis.

    Net buite Napier stap hy. Ek het hom al ’n duisend maal gesien, maar ek ken nie sy naam nie. Die een met die droomoё en die vae uitdrukking op die gelaat. Toe ons kinders was, was daar so ’n ou in ons dorp. Verstand van ’n tweejarige. Hy het sy wense en begeertes maar net gemompel; hy het nooit by die kwyl op sy onderlip verby leer praat nie. Hy het altyd saam met die armes van gees, hulle wat kruppel aan die buiterand van die lewe hink, by die Handelshuis op die stoep gesit. By húlle was hy vir almal aanvaarbaar. Ons het daardie jare maklik gesê iemand is mal. Ons het gesê ou Basie is mal. Tot my ma een dag vir my gesê het om dit nie weer te doen nie. Soggens het sý ma gesorg hy is mooi skoon aangetrek al het sy geweet hy sou die aand huis toe kom met bloed op sy knie, skuim in sy baard, dalk sonder sy sokkies en skoene. Amper soos die een op my pad vanoggend.

    Links van my skitter die sneeu wit op die Sonderendberge in die flitsende sonlig soos ek aanry, net om weer agter ’n koue wolk weg te raak. Die wêreld is vars na die reёn, die skape wei stadig op die gras wat blinkgroen uit die aarde opstaan.

    Net buite Bredasdorp staan sy en ryloop. In hierdie weer met ’n mini tot ver bo haar knieё opgerol. By die ingang van die dorp sien ek op ’n groot bord ons buurdorp word die ‘’ECONOMIC HUB” van ons omgewing genoem. Ja. Seker waar. Drie supermarkte, vier banke, alles wat my dorp nie het nie.

    First stop: die klein biltongwinkel in die Checkers-sentrum. Die meisie agter die toonbank ken my en verwelkom my met “Môre Meneer. Sal dit dieselfde wees?” Vir my beteken dieselfde altyd maar sulke klein worswieletjies in die heerlikste speserye gerol. Ek knik ja. Sy vra: “Meneer hou nie van die biltong nie? Mos oor dit te nat is. En die biltong sticks dan, Meneer? Hulle is mos lekker droog.” Ek terg met “Ou tande wil sag in die lekkertes wegsak.” Haar lag borrel soos vonkelwyn en jy verbeel jou jy sien net tande, skitterwit, soos die sneeu op die berge waar jy pas verby is, gesond en vol vreugde sy, soos die kanola wat September geel teen die horison aandruk. En tog. Iets ontbreek. Het verlore gegaan. Jy verbeel jou maar die dinge. Want, sy dra Die Masker.

    In Checkers self groet jy een wat jy ken, meer skugter as gewoonlik, bewus van Die Ding wat ons asof in ’n wolk kom toemaak het. Die meisie by die kasregister knik goeiemôre, maar sonder geesdrif. By die uitgang spuit die ou die goed op jou hande, maar hy hou sy afstand. Waar ek brandstof kry, hanteer die joggie my kaart versigtig. Hy is nie sy vriendelike self nie, die een wat altyd skerts en uitvra na my welstand. Soos ek in die hoofstraat my pad uit die dorp weer kry, bedink ek die dinge, wonder ek of ons nou vir áltyd anders gaan wees, afstande gaan bly behou, ook emosioneel, of ons maar net die vriendelikheid voortaan gaan veins, soos een wat weet mens knik darem as jy ’n ander se pad kruis, al is jy haastig êrens heen op pad. Dít wat ons deel, ons medemenslikheid, die toegeneentheid teenoor ander wat vir ons die veilige hawe is teen die aanslae, ons begeerte om uit te reik en met warmte omhels te word – gaan ons dit terugvind?

    Op pad sien ek hom weer. Die een wat my aan ou Basie herinner. Nou het hy ’n tipe hoed op. So ’n klein rooietjie met ’n spoggerige volstruisveer aan die een kant ingedruk. Seker op pad opgetel. Hy stap flink en maak sulke danspassies op die maat van die musiek in sy kop soos ek verbyry. Toe tref dit my. Die ou verstaan dalk wat min ander van ons begryp: Put a spring in your step, op die grootpad, by die huis, elke oomblik van elke dag, glo vir Ingrid Jonker as sy sê “Agter die gordyne begin die dag dans met ’n pouveer in sy hoed.”

    Vang die sonskyn in elke dag, die wit flits op ’n ry gesonde tande wat vir jou lag. Weet alles is tydelik. Dís om vrede te hê. Want, this too shall pass.

    Danie Botha is ‘n skrywer en taalpraktisyn wat op ‘n plaas buite Napier woon, naby bome waardeur die wind suis. Soms is daar ‘n brand. Soms is daar ‘n slang op die stoep. Dit kom met die terrein, wat storie verteller-terrein is. Vind meer uit oor Danie Botha by Danie Botha Language Services Taaldienste.

    Latest

    Medical aid: Eish!

    Medical aids. Don't talk to her about them! So complains a reader of The Grotto, who is battling her medical aid at this very moment.

    Poem

    Mia Valodia Wessels van Zijl invariably transports readers to a more poetic reality.

    Kaiings in Kaboel

    Die digter-sjef Zane Beswick het 'n heerlike artikel geskryf oor die Kaboem-maaltyd wat hy in Kaboel, die hoofstad van Afghanistan, moes maak.

    Errieda du Toit se knievrye witbrood in ‘n gietysterpan

    Errieda du Toit‘n Brood en ‘n baie spesiale bord.Die herdenkingsbord het ek in 1998 vir my Ma...

    Taal lawwigheid: Snuf in die neus kry

    Dis glo reg om te sê "Die snuf in die neus kry" eerder as "snuf in die neus kry." Ek sou verskil daarmee. Ek los altyd 'die' uit en dink dit klink beter so vir my.

    Gerook, gedrink, gerangskik

    In hierdie liriese essay skryf Lise Beswick oor 'n boom wat so groot is dat jy hom van die maan kan sien en blare wat kraak soos pakkies chips as jy oor hulle loop.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.