More
    Home Afrikaans Brief uit Napier Simbaskyfies en koppies met af ore

    Simbaskyfies en koppies met af ore

    ‘n Besoek aan die dorp word ‘n nabetragting oor armoede en die klein vreugdes in die lewe, selfs op die dorp se ashoop. Dis Danie Botha op sy beste.

    Danie Botha. Foto: Verskaf

    Alles is maar relatief. Armoede ook. Ons belewenis van ánder se pyne net so.

    Die ou vroutjie wat in die supermark haar beursie op die toonbank omdop omdat die kassiere ongeduldig sê sy kort nog R2,50, lyk arm. Haar klere is on-modieus, oud. En jy sien haar altyd die paar blokke winkel toe stap. Sy het nie ’n kar nie. Nee, daar’s net so ’n paar los munte. Sy sit die sjokolade terug op die rak en betaal verleё vir die brood en boksie melk. Sy loop stadig uit en praat saggies met haarself.

    Die gesin van wie die hele dorp weet Pa slaan aan almal in die huis, is arm. Pa se blou oё sit weer wild in hul kaste vandag; hy het seker bier gedrink en ’n ietsie gerook. Nou’s hy hoog en jy bly uit sy pad uit. Twee kleintjies kerm hulle’s honger. Ma skree shaddap, hy pay môre weer, dan kry julle pap en wors met uiesmoor.

    By die dorp se vullisgate hou jy stil om jou kombuisafval in die groot houer te laat. Twee vroue staan met dowwe oё nader, een met ’n stootwaentjie waarvan een van die wiele makeer. In die waentjie is ’n paar los items ingedruk. Ek sien ’n stuk ou materiaal, ’n afdruk van die gesig van die 1950’s Glamour Girl Lana Turner in ’n swart raam wat reeds goed afskilfer, ’n oranje kastrol met duike in, twee houertjies wat soos Tupperware lyk, ’n tennisraket sonder snare, ’n kaal pop minus een van haar oё, ’n paar gebreide handskoene teen die Junielug, en iets wat soos ’n skeermes lyk. En ’n botteltjie waaruit iemand eens parfuum aangespuit het. Sekerlik leeg nou. Die twee betrag my.

    Ek sê vir hulle daar’s niks in my twee sakke nie, net kombuisafval, en ou kos. “Dis maar reg, Meneer. Ons sal kyk.” Sy skuif die doek op haar kop netjies en staan met afwagting en loer wat ek laat. Ek los die afval in die groot houer en klim terug in my kar.

    Ek sien hoe hulle deur die skatte wat ek daar in die twee Checkers-sakke gelaat het, krap. Met die wegry gewaar ek hoe die een iets in een hand bo haar kop teen die sonlig hou. Dis ’n koppie waarvan ek vanoggend die oor afgebreek het met die afdroogslag. Een met fyn rosies en ’n goue randjie op. Een wat aan my ouma Alie behoort het. Die ouma wat van tyd tot tyd koffie- en teevlekke met bleikmiddel sou verwyder deur daardie koppies oornag in Jik te laat staan. In haar ander hand hou sy die halwe pak Simbaskyfies wat ek uitgegooi het want ek wil probeer om minder koolhidrate te eet. Net gister juis het ek en die dokter in die OK geskerts toe sy na my inkopemandjie loer en agter die masker glimlag. Ek het vinnig gegooi met “Ag, Dokter, dis sommer so ’n bietjie troos teen die tye.”

    Vir die vrou by die asgat is my halwe pak Simbas waarskynlik méér as soveel of sóveel koolhidrate. Vir haar kleintjies dalk iets wat hulle kry net wanneer iemand anders dit uitgooi. So of sy moet staat maak op die “kindness of strangers”. Wie onthou Vivien Leigh se onsterflike “I have always depended on the kindness of strangers” in die fliek A Streetcar Named Desire? Hoekom sou ek daaraan dink by die dorp se vullisgate waar die vlieё maal, waar twee verwaarloosde vroue kom rondkrap op soek vir ’n bietjie genade, dalk iets wat hulle kinders met bak hande voor hulle sal laat staan en die ma’s sal laat glimlag soos hulle dit aangee.

    Hulle kyk na my soos ek by die hek uitry en waai met die hande. Die tweede vrou lig haar kopdoek en maak sulke klein danspassies terwyl sy haar hande saamklap. Sy het die leё parfuumbottel beet en dit spuit, dit spuit terwyl sy oopmond lag vir die vebeelde geure van frangipani, jasmyn, rooswater en genade om haar kop, op haar nek, haar polse.

    Dan is ek om die draai. Die lug bo is skoon en sag en die dag bars in helder kleure om my oop soos ek na die koffiedrinkplek aanry met die klanke van Jacques Brel in die kar. Dalk ís alles maar relatief.

    Danie Botha is ‘n skrywer en taalpraktisyn wat op ‘n plaas buite Napier woon, naby bome waardeur die wind suis. Soms is daar ‘n brand. Soms is daar ‘n slang op die stoep. Dit kom met die terrein, wat storie verteller-terrein is. Vind meer uit oor Danie Botha by Danie Botha Language Services Taaldienste.

    Latest

    Medical aid: Eish!

    Medical aids. Don't talk to her about them! So complains a reader of The Grotto, who is battling her medical aid at this very moment.

    Poem

    Mia Valodia Wessels van Zijl invariably transports readers to a more poetic reality.

    Kaiings in Kaboel

    Die digter-sjef Zane Beswick het 'n heerlike artikel geskryf oor die Kaboem-maaltyd wat hy in Kaboel, die hoofstad van Afghanistan, moes maak.

    Errieda du Toit se knievrye witbrood in ‘n gietysterpan

    Errieda du Toit‘n Brood en ‘n baie spesiale bord.Die herdenkingsbord het ek in 1998 vir my Ma...

    Taal lawwigheid: Snuf in die neus kry

    Dis glo reg om te sê "Die snuf in die neus kry" eerder as "snuf in die neus kry." Ek sou verskil daarmee. Ek los altyd 'die' uit en dink dit klink beter so vir my.

    Gerook, gedrink, gerangskik

    In hierdie liriese essay skryf Lise Beswick oor 'n boom wat so groot is dat jy hom van die maan kan sien en blare wat kraak soos pakkies chips as jy oor hulle loop.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.