More
    Home Afrikaans Oor lysies maak om te onthou

    Oor lysies maak om te onthou


    In hierdie heerlike rubriek vertel Danie Botha van sy lysies. Hy maak wenslysies, inkopielysies, lysies oor die nuutste lockdown-regulasies. Hy’t selfs ‘n lysie gemaak van die Nama woorde wat hy onthou. Maar met soveel lysies om hom kan dinge lol …

    Danie Botha. Foto: Verskaf

    Van die dinge wat ek nog nooit gedoen het nie, maar nog wil aanpak. ’n Bucket List. Soos na my land van herkoms terugreis en besoek gaan aflê by plekke waar ek as kind nie uitgekom het nie, plekke wat al die jare maar vir my ’n groot bekoring ingehou het. Brukkarosbeg met sy uitgestorwe ou vulkaan, die plek wat in die ou Khoekhoetale as Geitsi Gubib bekend staan onder die Namas. Ek kan nou nog so ’n bietjie in Nama tel. Igui, igam, !nona, haka, koro, !nani, hû en so aan.

    Ook Mukurob, die Vinger van God oos van Asab, tussen Mariental en Keetmanshoop, die unieke rotsformasie van sandsteen wat op posseёls en in koffietafelboeke gepryk het, wat op 7 Desember 1988 omgeval het nadat hy eeue lank hoog die lug ingetroon en mense betower het, en selfs al het ek hom nooit gesien toe hy nog gestaan het nie, sou ek graag iets van die legende wou voel daar waar nou net brokstukke lê.

    Ek gaan graag weer Ai-Ais toe, lê op my rug en dryf in die swembad en verbeel my ek reis op die stil, blou lug bo my na elke elke voordeur van elke huis waar ek grootgeword het van Gobabis toe ek ’n baba was tot op Karasburg waar ek klaargemaak het met die skool.

    Ek sou graag foto’s wou gaan neem van die Christuskirche in Windhoek en houtbeeldjies koop by Hererovroue met hul wye bont rokke op die sypaadjies van Kaiserstraβe of in Oshiwambo iemand ’n goeie dag wou wens.

    Ek sou by ooms en tannies se grafte my kinderjare wou herroep en kyk watter Bybelverse op die koue granietstene aangeteken staan, ek sou by maters wat nou nog in die distrik rond boer wou gaan koffie drink en gaan kyk of die peperbome nog by die Leonard-hospitaal waar my mangels op 6 uitgehaal is, steeds pienk bessies dra, en ’n draai op Swakopmund gaan gooi waar ’n niggie en ’n kleinneef woon, en ’n matriekmaat wat saam met my op Karasburg in die klas gesit het. Saam Duitse bier gaan drink en vleis wou braai onder skoon en helder nagte, en luister na die breek van branders by Hentiesbaai en die sproei van vrede op my wange voel.

    My wenslyste skryf notaboeke vol, loop oor my tafel na die bergingsplekke in my computer en selfoon en bring herinneringe vars tot hier by my voete waar ek in die Overberg sit en die berge Riviersonderend en Swellendam se kant toe sien verkleur in die laatmiddaglug, van helderblou en pers tot grys en die westerkim van orange, van rooi en pienk tot die aandster wit teen die hemel kom sit.

    Ek vergeet verjaarsdae en voel verleё omdat ek nie altyd op die kalender kyk nie, om dan maar met eier op die gesig gevang te word. Ek skryf goed op los papiertjies in die middel van die nag en beloof myself dan om dit mooi te orden in die daglig en te liaseer waar dit hoort. Maar ek vergeet en dan, wanneer ek dit soek, moet ek my huis omdolwe, net om dit nie te vind nie.

    Voor ek winkel toe gaan, maak ek ’n inkopielys maar kyk nie altyd daarna soos ek by die rakke verbybeweeg nie, vergeet ek ek het eintlik kom Handy Andy en swartsakke koop en loop dan weg met ’n LED-gloeilamp omdat ek gelees het hulle hou tot 30, 000 uur.

    My lysies hou nie op nie. Ek skryf vakansiedatums neer, pak ’n mandjie met outydse padkos en ry die agterpaaie langs Karoo toe, ek hou stil by helder dae en groet sterrenagte op my pad, in die ry teken ek berge en koppies met my vingers af, en sien op een van my lysies ek moet by Scheurfontein op die N12 stilhou vir melktert en tee, en op Oudsthoorn by die tennisklub gaan hallo sê, op Beaufort-Wes by vriende wyn gaan drink en saam wonder waar is die jare heen.

    Op my nuutste lysie moet ek nog neerskryf wat Lockdown Level 3 behels, moet ek aanteken watter boeke ek nog wil koop, moet ek aanteken die name van al die plekkies waar ek na die winter in die lente wil gaan stap, waar ek die mooiste aandblomme moet gaan soek en langs watter veldpad ek wil gaan rus, by watter stroom ek wil gaan drink.

    En onthou om, as ek weer winkel toe moet gaan om uie te gaan koop, nie eerder met ’n pak Simbaskyfies en ’n klompie Bar Ones in die kar te klim nie.

    Danie Botha is ‘n skrywer en taalpraktisyn wat op ‘n plaas buite Napier woon, naby bome waardeur die wind suis. Soms is daar ‘n brand. Soms is daar ‘n slang op die stoep. Dit kom met die terrein, wat storie verteller-terrein is. Vind meer uit oor Danie Botha by Danie Botha Language Services Taaldienste.

    Latest

    Medical aid: Eish!

    Medical aids. Don't talk to her about them! So complains a reader of The Grotto, who is battling her medical aid at this very moment.

    Poem

    Mia Valodia Wessels van Zijl invariably transports readers to a more poetic reality.

    Kaiings in Kaboel

    Die digter-sjef Zane Beswick het 'n heerlike artikel geskryf oor die Kaboem-maaltyd wat hy in Kaboel, die hoofstad van Afghanistan, moes maak.

    Errieda du Toit se knievrye witbrood in ‘n gietysterpan

    Errieda du Toit‘n Brood en ‘n baie spesiale bord.Die herdenkingsbord het ek in 1998 vir my Ma...

    Taal lawwigheid: Snuf in die neus kry

    Dis glo reg om te sê "Die snuf in die neus kry" eerder as "snuf in die neus kry." Ek sou verskil daarmee. Ek los altyd 'die' uit en dink dit klink beter so vir my.

    Gerook, gedrink, gerangskik

    In hierdie liriese essay skryf Lise Beswick oor 'n boom wat so groot is dat jy hom van die maan kan sien en blare wat kraak soos pakkies chips as jy oor hulle loop.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.