More
    Home Afrikaans Krieket en Koeëls

    Krieket en Koeëls

    In Kaboel is daar ’n vyfde seisoen en dit is die bomseisoen, skryf Zane Beswick. ” Dit begin nie met ‘n sonstilstand nie, nee, ek dink dit begin wanneer iemand net bedonderd is. Gewoonlik is die bomseisoentydens lente en somer, en almal is behoedsaam.”


    Ek was in ses verskillende laerskole gewees as gevolg van my pa se beroep in die boorbedryf. Sport was nog nooit groot in ons huis nie. En sodra ek hoegenaamd `n span gehaal het, al was dit om lemoene te skil, het ons getrek. Dan het ek net weer begin om myself by ‘n span in te werk.

    Toe my ma my in standerd vyf betrap met ‘n meisie wat my die geheime kuns van ‘n Franse soen wys – dit kon seker ook as ekstreme sport beskou word in daardie tyd op Putfontein – is ek gestuur na ‘n Katolieke skool vir seuns in Kimberley. In die skool is jy gedwing om aan alle sportsoorte deel te neem. Die broeders het geglo ledigheid is die duiwel se oorkussing. En ons koshuisbrakke moes net bontstaan.

    Ek het nie te goed gevaar in rugby nie, maar as jy die manne van Diamantveld Hoër of Jakobsdal Landbouskool gesien het, sou jy verstaan waarom nie. So het ek nou krieket begin speel. Dit was ‘n stil en baie beheersde sport. Wanneer die bouler sy aanloop neem, was almal doodstil en niemand durf beweeg het nie. Daar is geen geluid gemaak nie. Nou en dan was daar ‘n handeklap, maar niks gefluit of toejuiging nie. En elke Saterdagmiddag was dit die manier hoe ons dit gedoen het onder die warm Kalahari son. Daar het ek krieket verlaat. Tot die krieket evolusie my 35 jaar later in Afghanistan getref het.

    Wanneer jy in Kaboel rondbeweeg, het jy altyd jou paspoort by jou. So ook jou Vac Pack- ontruimingsakkie met water, ‘n paar sjokolade stafies, ‘n paar sokkies, ‘n onderbroek en selfoon kragbank. Dit moenie te swaar wees nie, want sou jy vinnig moet vlug, moet jy dit met gemak kan doen. Ek het ook by `n netwerk ingeskakel om op hoogte te bly van bom- of enige ander aanvalle.

    In Kaboel is daar ’n vyfde seisoen en dit is die bomseisoen. Dit begin nie met ‘n sonstilstand nie, nee, ek dink dit begin wanneer iemand net bedonderd is. Gewoonlik is die bomseisoentydens lente en somer, en almal is behoedsaam.

    Na veertig jaar se burger oorloë en die Russiese invallers gedurende die sewentiges en vroeë tagtigs is daar baie mense met onwettige vuurwapens. Na die Russe onttrek het en die Amerikaners die Afghane aan die agterspene laat suig het, het die Taliban aan bewind gekom.

    Die Taliban met hul streng Ortodokse Islamitiese bewind het wette ingestel wat as onmenslik beskou is. Geen sport sou beoefen word nie en vrouens mag nie akademiese opleiding kry nie. Die sportstadion in Kaboel het gedien as ‘n plek waar teregstellings plaasgevind het. Met die dat Amerika Afghanistan ingeval het na die 9/11-tragedie, het die Taliban in ‘n sekere mate ‘n ondergrondse beweging geraak. Westerse invloede het begin posvat. Mense kon weer sport doen en vrouens kon hulself kwalifiseer, op watter gebied ookal.

    Daar was twee bomaanvalle op die kompleks waar ek gewerk het. Daar was ook skade. Ek moes ‘n slapelose nag in die kompleks deurbring en help met ontruiming en skare beheer. Toe ek die volgende middag laat by my skeepshouer-tuiste aankom, was ek goed uitgeput en effe skrikkerig (Bom-Skrik) weens die afgelope twee dae se gebeurtenisse. Na ek lekker gestort het en die mense terug in Suid-Afrika gerus gestel het oor my veiligheid, het ek aan die slaap geraak.

    Tot ek skielik wakker skrik met ‘n oorlog wat buite aangaan. Daar is herhaaldelik skote afgevuur en dit was nie met ligte kaliber vuurwapens nie. Eers hoor jy dit kom uit een rigting, dan uit ‘n ander, dan weer van veraf, en dan van naby.

    Ek rol vinnig van my bed af en sit alles af wat soos ‘n liggie lyk. Maar die skote het nader en nader gekom. Ek het begin rondvoel vir my Vac Pack, selfoon en paspoort. Na ‘n gespartel en ‘n gestamp kry ek my broek en stewels lê-lê aan. Hyg-hyg en bewende van adrenalien gryp ek my telefoon om uit te vind of daar enigiets op die netwerk is omtrent die aanval wat om my aangaan. Daar, in hoofletters, word Afghanistan met hulle oorwinning in die krieket uitdunwedstryd teen Bangladesj geluk gewens. Die geweerskote wat afgevuur is, was die oorwinningsvieringe. Tegelyk verlig en bedonderd moes ek dink aan die broeders in Kimberley en die warm Kalahari son en vir myself sê, ag nee ouens, dit is mos nie krieket nie.

    Zane Beswick is ‘n sjef en boer en digter. Hy is die eienaar van die Schwarma Shack op Robertson en het uitgebreide werksondervindig, onder meer in die Hotel Camelot in Afghanistan. Zane beskryf homself as volg: “Ek behoort nêrens en ek behoort orals. Ek leef vir die oomblik en ek leef vir die ewigheid.”

    Latest

    Hemingways Bookshop’s new chapter

    Hemingways Bookshop in Hermanus is celebrating its 25th anniversary this month. And it is doing so in the style that people have become accustomed to.

    If you’re a Braai Boet, head over here

    If you love a braai you'll probably enjoy the various braai threads on our Forum. The Faniebraai braai thread has a story to it. It's named after the late and much missed Faniebraai, who has been described by one of our Forum members as "larger than life.

    The grandeur of simple things

    Bredasdorp artist Weyers du Toit's paintings of humble objects take them to another level.

    Ek ruik ‘n rot

    Daar is 'n geheimsinnige indringer in haar hoenderhok, skryf Lise Beswick. Sy't 'n foto van die tonnel in die grond geneem. Is dit 'n vriend of vyand? Sy wens sy't 'n hoender- tolk sodat sy kan verstaan wat haar hoenders sê oor die wese.

    Water of Vodka…

    Was daar water of wodka in die ketel? Vind uit in hierdie heerlike storie deur die digter-sjef Zane Beswick.

    Clare Menck’s lyrical evocation of childhood

    Lockdown has not killed the arts. Well-known artist Clare Menck had proof of that when her art works sold briskly at a group exhibition in Rosebank, Cape Town, this weekend. The exhibition can still be viewed by private appointment.

    Bring on the magic potion! We’re gatvol of the virus!

    Lockdown diaries: Where is Getafix the druid when one needs him?

    Tippie Enslin se gebakte pere met heuning en balsamic

    Winter inspirasie: Tippie Enslin se gebakte pere is mooi genoeg om te skilder, en lekker daarby.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.