More

    Kaiings in Kaboel

    Die digter-sjef Zane Beswick het ‘n heerlike artikel geskryf oor die Kaboem-maaltyd wat hy in Kaboel, die hoofstad van Afghanistan, moes maak.

    Zane Beswick (regs) in Kaboel.

    Ons kantore was in die industriële gebied van Kaboel (Police District 9) d.w.s jy het uit die stad uit gery op die Jalalabad pad, dan links gedraai in die Bhagram pad in, dan weers regs in ‘n systraatjie in – daar het ek gewoon in ‘n drie verdieping skeepshouerstruktuur.

    Kaboel is ‘n stad met ‘n populasie van om en by vyf miljoen mense en soms het dit gevoel of elke mens en dier ‘n voertuig het, en elkeen die padreëls op ‘n manier van sy eie vertolk.

    Informele handeldryf in Kaboel is yslik, met padstalletjies orals. Net so elke nou en dan is daar ‘n slagding wat in die oopte hang en ‘n persoon wat dit snit vir snit sal verkoop.

    Wat ‘n skaap vreet, kan dikwels in sy vetjies of tot ‘n sekere mate in sy vleis geproe word, en skaap wat in ons streek op die fynbos wei met natuurlik ‘n byvoer soos hawer, het ‘n smaak van sy eie.

    Skape is ook volop in die buitewyke van Kaboel, veral in my wyk en waarop hulle gewei het, was allesbehalwe groen gras. Plastiek, riool, gemors. Die kudde was Persies, dus het hulle ‘n lekker vet stert gehad.

    Op ‘n dag, op pad terug van die middestad, na vele onderhandelinge en na ek omtrent – ek is seker – meer as tien winkels besoek het op soek na meubels (tevergeefs) noem ek vir my Suid-Afrikanse kollega hoe lekker skaapstertjies en kaiings op kaboemmielies sou wees. Skaars het ek die woord “kaboem” gesê, of al drie die Aghaanse medereisigers wou beangs in in hul taal weet waar die kaboem vandaan kom. Gelukkig kon my kollega wat beter met hulle kon kommunikeer hulle gerusstel dat daar geen bom ter sprake was nie.

    Nietemin draai die bestuurder skielik van die pad wat ons gewoonlik neem weg en gaan stop op ‘n hoekie waar dit taamlik gons van mense. Die maatskappy se lyfwag, wat ons altyd vergesel het wanneer ons markte of die middestad besoek het weens ontvoeringe ensovoorts, klim uit, en gaan staan agter die voertuig. Die bestuurder gaan staan voor die voertuig, want dikwels in soortgelyke omstandighede is ‘n IED (improvised explosive device) op voertuie geplaas deur verbylopers, en Safie, die aankope-bestuurder wat voor gesit het, raak weg in die skare. Ek en my kollega bly sit in die voertuig met ons kopdoeke aan en net ons oë wat uitsteek.

    Na so twintig minute keer Safi terug met twee lekker vet skaapsterte in ‘n sak en gee dit vir my.

    Nou moet ek sê in my ma se familie in Namakwaland was daar die manne wat kon “skoon slag” en as kind het ek die manne met hul knipmesse beskou as die “Super Heroes van Khouroep”.

    Toe ek die sak vat, toe slat die reuk my. Ek kon nie ondankbaar lyk nie en brom toe dankie in Afghan en probeer my bes om gelukkig te lyk. Ek en my kollega maak onmiddelik ons vensters oop wat weens veiligheidsmaatreëls moes toe wees.

    Die drywer en lyfwag is kort daarna weer terug in die voertuig en maak toe onmiddelik weer die vensters toe en sê ons moet die vensters toe hou vir veiligheid. En hulle sluit toe die vensters.

    Ek gee toe die sak aan vir die lyfwag wat agter sit en sê vir hom om dit so na aan die agterdeur as moontlik te sit. Die voertuig wat ons gebruik het was soortgelyk aan die Toyota Prado, m.a.w. ‘n vierwiel aangedrewe stasiewa.

    Maar die reuk het swaar gehang. Die sterte moes al ten minste twee dae langer as wat hulle sê, gehang het.

    Met kopdoeke styf om die neus en mond gevou, arriveer ons terug by die hoofkantoor. Met groot opwinding word onder die Afghaanse personeel aangekondig dat die nuwe ou vir almal gaan Kaboem maak vir middagete die volgende dag.

    Ek neem toe die sak na die kombuis en na verdere ondersoek kon ek sien hierdie manne het nog nie op Khouroep geslag nie. Die lot het vuil geslag. Die skaapsterte was vol kliere, wat ‘n teken was dat die skape nie gesond geëet het nie. Ek het die sterte in asynwater gesit en geskrop, maar kon eenvoudig nie die reuk wegkry nie. Ek het albei toegemaak in ‘n sak en diep onder in ‘n verlate vrieskas in die pakstoor gaan weggesteek. Iewers in Kabul is daar nog ‘n sak gevriesde Kaboem. . .

    Die anti-klimaks vir hierdie Suid-Afrikaner was so erg dat hy nie eers die plaasvervangende maaltyd kan onthou nie. Wat ek wel kan onthou, is jare later toe ek en my pa, die Engelsman, vir ‘n ander Rou Rooinek hier plaaslik sy vrou se troetelskaap “Lamb Chop” moes gaan slag en ek weer aan die Kaboem-insident gedink het – en besef het ons kon ook in die “Super Hero”-liga gekwalifiseer het.

    Zane Beswick is ‘n sjef en boer en digter. Hy is die eienaar van die Schwarma Shack op Robertson en het uitgebreide werksondervindig, onder meer in die Hotel Camelot in Afghanistan. Zane beskryf homself as volg: “Ek behoort nêrens en ek behoort orals. Ek leef vir die oomblik en ek leef vir die ewigheid.”

    Latest

    Medical aid: Eish!

    Medical aids. Don't talk to her about them! So complains a reader of The Grotto, who is battling her medical aid at this very moment.

    Poem

    Mia Valodia Wessels van Zijl invariably transports readers to a more poetic reality.

    Kaiings in Kaboel

    Die digter-sjef Zane Beswick het 'n heerlike artikel geskryf oor die Kaboem-maaltyd wat hy in Kaboel, die hoofstad van Afghanistan, moes maak.

    Errieda du Toit se knievrye witbrood in ‘n gietysterpan

    Errieda du Toit‘n Brood en ‘n baie spesiale bord.Die herdenkingsbord het ek in 1998 vir my Ma...

    Taal lawwigheid: Snuf in die neus kry

    Dis glo reg om te sê "Die snuf in die neus kry" eerder as "snuf in die neus kry." Ek sou verskil daarmee. Ek los altyd 'die' uit en dink dit klink beter so vir my.

    Gerook, gedrink, gerangskik

    In hierdie liriese essay skryf Lise Beswick oor 'n boom wat so groot is dat jy hom van die maan kan sien en blare wat kraak soos pakkies chips as jy oor hulle loop.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.