More
    Home Afrikaans Goeie onderskeidingsvermoë kom ná ondervinding

    Goeie onderskeidingsvermoë kom ná ondervinding

    Toe die skrywer Lise Beswick saam met vier ander vroue die Boesmanskloof staproete gedoen het, het sy nie geweet waarvoor sy haar inlaat nie…

    Die skrywer Lise Beswick. Foto: Verskaf

    Goeie onderskeidingsvermoë kom ná ondervinding. Ondervinding kry jy as jy nie jou goeie onderskeidingsvermoë gebruik het nie. Só sê Evan Hardin.

    En so weet ons vyf vrouens na agt ure se stap in die Riviersonderendberge tussen McGregor en Greyton. Die Boesmanskloof staproete is sestien kilometer in asemrowende mooi natuur – maar miskien moes ons William Naismith se stapgrafiek bestudeer het eerder as om so opgewonde te raak oor die beplanning van ons padkos. Naismith sê jy werk jou stapspoed uit deur die afdraande en opdraande in ag te neem. Soos met `n geboorte waar jy gou vergeet hoe pynlik dit was, vergeet jy na dertig jaar waarin jy nie `n staproete gedoen het nie, dat jy liewer aandag aan jou toerusting en stapskoene moes gee.

    Kos en toerusting is albei belangrik, maar ek kan nie help om aan Maria in The Sound of Music te dink waar sy huppelend oor die heuwel verskyn nie. Verkeerde verwagtinge kan jou volmaakte prentjie in die wiele ry. In ons geval was die verwagtinge van die staproete heeltemal te laag. Van McGregor se kant af sak die eerste skrikwekkende afdraand vir ongeveer `n kilometer met een honderd en twintig meter. Die tweede soortgelyke afdraand naby die einde sak van ses honderd meter na twee honderd meter oor sowat vier kilometer. Jou kloppende tone en hangende rugsak gee stof tot nadenke en jy besef jy kan nie omdraai nie en oorweeg om soos Zola Budd die roete kaalvoet te doen.

    Ons het hartlik gelag oor die naam vir die vertrekpunt – Die Galg. Na ‘n ruk het ons half ernstig oor die keuse van die naam besin. Die verskeidenheid plantspesies en proteas wat begin blom, die boomryke klowe en kranse het, behalwe vir die paar van ons wat hoogtevrees het, beïndruk.

    Dit het ons laat dink aan wat Cheryl Strayed gesê het: om in die berge te stap is om tuis te kom. Dit is `n noodsaaklikheid vir die oorwerkte, oorspanne, hiper-beskaafde mense wat moet leer om te stap vir geen ander rede nie as om net die bome, strome, rotse en sonsondergange te aanskou nie.

    Ten spyte van ons verwondering en verbasing oor die onverwagte steil en uitgerekte op- en afdraande, moes ons lag toe twee paartjies met drafklere en piepklein rugsakkies op dieselfde dag twee keer by ons verby draf – ligvoets en maklik. Teen hierdie tyd moes ons al knieë vasdraai met kleefverband, het ons by Oakes Fall, die diep, swart poel wat Raka se blyplek kon wees, uitgespan en rogbrood, kase, koffie, biltong en neute geniet terwyl ons ons seer voete in die yskoue water lawe. Ietwat verlig het ons die onvoldoende, maar ligter rugsakke met geen ondersteuning op die heupe nie, opgetel om die laaste helfte van die roete aan te pak.

    Dit was verrassend hoe gewild die roete was. Middeljariges, toeriste, studente van alle tale het ons of van agter ingehaal of van voor af vriendelik gegroet en `n lekker stap toegewens. Nie almal was so taktvol nie. Een van die verbygangers het ons selfbeeld met sy woorde “You look like you had enough” gereduseer van Maria van The Sound of Music tot vlugtelinge in die Oekraïne. Ek moes dink aan Herman Buhl se woorde, “Mountains have a way of dealing with overconfidence.” Maar ons het ons nie laat onderkry nie, ons vreugde behou, vir die drone gewaai wat woer-woer bo ons koppe getalle gemonitor het, helder oranje lipstiffie aangesit en uitbundig vir onsself en die lewe gelag. G.K. Chesterton het immers gesê “An adventure is only an inconvenience rightly considered. An inconvenience is only an adventure wrongly considered.”

    Greyton se elektrisiteit, insluitend die van die Ecolodge, ons oornagplek, was sedert die vorige dag se tornado, af. Die aand in ons donker kamer, met die volmaan soos `n reuse pupil wat duidelik sigbaar was deur die ou skoolkoshuis se vensters, het ons herkou en gelag – uitgelate en heerlik, soos mense met vakansie.

    Styf en seer het ons die volgende oggend die pad terug aangepak – dankbaar vir die eerste paar kilometers se opdraande om ons seer tone `n blaaskans te gee. By Raka se poel het ons `n student se kaal boude gesien en onmiddelik die nodige klere uitgetrek, in die poel ingegly en geswem tot onder die waterval wat met sy swaar stroom water op ons koppe ons asems weggeslaan het. Nev Schulman het gesê jy het die afdraande nodig om die opdraande te waardeer en om risiko´s te waag of avonture te beleef, vorm jou karakter.

    Na dese het ons mekaar meer geniet, beter geken en kans gesien vir die elke dag se sleur en uitdagings wat nooit jou aangename herinneringe kan wegneem nie.

    Latest

    Hemingways Bookshop’s new chapter

    Hemingways Bookshop in Hermanus is celebrating its 25th anniversary this month. And it is doing so in the style that people have become accustomed to.

    If you’re a Braai Boet, head over here

    If you love a braai you'll probably enjoy the various braai threads on our Forum. The Faniebraai braai thread has a story to it. It's named after the late and much missed Faniebraai, who has been described by one of our Forum members as "larger than life.

    The grandeur of simple things

    Bredasdorp artist Weyers du Toit's paintings of humble objects take them to another level.

    Ek ruik ‘n rot

    Daar is 'n geheimsinnige indringer in haar hoenderhok, skryf Lise Beswick. Sy't 'n foto van die tonnel in die grond geneem. Is dit 'n vriend of vyand? Sy wens sy't 'n hoender- tolk sodat sy kan verstaan wat haar hoenders sê oor die wese.

    Water of Vodka…

    Was daar water of wodka in die ketel? Vind uit in hierdie heerlike storie deur die digter-sjef Zane Beswick.

    Clare Menck’s lyrical evocation of childhood

    Lockdown has not killed the arts. Well-known artist Clare Menck had proof of that when her art works sold briskly at a group exhibition in Rosebank, Cape Town, this weekend. The exhibition can still be viewed by private appointment.

    Bring on the magic potion! We’re gatvol of the virus!

    Lockdown diaries: Where is Getafix the druid when one needs him?

    Tippie Enslin se gebakte pere met heuning en balsamic

    Winter inspirasie: Tippie Enslin se gebakte pere is mooi genoeg om te skilder, en lekker daarby.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.