More
    Home Afrikaans Ek Moet Bieg Dis die berg in my

    Dis die berg in my

    Lise Beswick kyk met vars oë na berge. En nadat jy hierdie essay gelees het, sal jy ook. Want dan sal jy weet dat berge sagte sye het, en skuinspaadjies, soos die wat mens in jou hare kam.

    Lise Beswick. Foto: Verskaf

    Berge is reusagtige uitgeknipte plat prente, vasgeplak teen die blou lug. Jy sien van ver af niks van hul rondings en kurwes nie.

    Hul is groot. Niks is groter nie – nie ‘n olifant, walvis of oorlogtenk nie. As ‘n vliegtuig, trein of skip teen hulle sou bots, sal hul nie ‘n oog knip of ‘n spier verroer nie.

    Hulle lê met hul wye gewebde kloue ver uitgestrek en ‘n reusagtig gepunte skub op hul voorkop of rug wat die plafon van die lug ophou.

    Soms hang swaar wit gebondelde komberse tot by hul knieë of steek hul geweldige puntige kroon ‘n gat deur die wolke.

    Sterk woeste winde pluk aan hul kieue, vinne of vleuels. Hulle staan. Vas op die aarde, half in kontak met die hemel. Misterieus gebind aan aarde en hemelinge.

    Niks roer hulle nie. Net die aarde self – as dit skud of skuif, swart lag of geel vuur spoeg, flitse vonke skiet of rotse rol tot in swart kraters waar hul konkelpad die volgende dag lê soos skilferpaadjies tussen bossies hare.

    ‘n Berg lyk maklik om te klim. Van ver af lyk dit of jy hom kan uitstap soos jy ‘n skuinspaadjie van voorkop tot kroon met ‘n kam trek (toe paadjies nog in die mode was). Jy klim ‘n berg soos nuwerwetse haarpaaie – na links, skerp na regs, weer wyd na links, skerp regs, sigsag geleidelik hoër. Dit voel of jy horisontaal óm die berg gaan loop. Maar jy styg geleidelik hoër. Jy verloor perspektief. Bo lyk onbereikbaar ver. Maar jy hou aan stap.

    As jy terugkyk, staan jy verstom oor die afstand wat jy afgelê het, die uitsig – die oorwinning wat jy klaar behaal het. So klein soos wat jy voel teen ‘n berg, so klein van buite, groot van binne voel jy as jy op die kruin staan. Jy voel hoër as wat ‘n vliegtuig vlieg, jou kop in die wolke.

    Jy onthou nederig dat jy die berg klim, nie dat die wêreld jou kan sien nie, maar dat jy die wêreld kan sien. Jy dink aan Abraham en Isak wat drie dae tot by die offerplek moes loop. Moses wat berg-op is en God vanuit die wolk gehoor het, berge wat kan skuif as jy ‘n mostertsaad se geloof het.

    ‘n Berg het ‘n sagte kant – wanneer die son haar ligpienk laat bloos as sy op haar kurwes skyn, die kantfyn kristalrepies soos lang oorbelle in bruisende watervalle teen haar nek laat blink, of as jy moeg in die smal paadjie gaan sit en sagte klam mos teen jou rug voel.

    Jy kan met net ‘n waterbottel bergklim en geïrriteerd raak met die gewig wat jy dra. Of jy kan swaar bagasie hê, maar jou hart en gemoed is lig. Dan gaan die natuur, die uitsig, die vars lug jou gewig vir jou dra.

    “Want dan is jy in die berg en die berg is nie in jou nie.”*

    Die aanhaling in die laaste lyn kom oorspronklik van David Mccullough Jr.

    Die skrywer is ‘n storieverteller en oud-onderwyser van Bredasdorp. Sy hou van skryf, spit en lekker soen. Verder hou sy ook van kinders leer en fietsy. Lekker gesels en ‘n koue bier op sy tyd. Sy hou van eenvoud en die liefde.

    Latest

    Medical aid: Eish!

    Medical aids. Don't talk to her about them! So complains a reader of The Grotto, who is battling her medical aid at this very moment.

    Poem

    Mia Valodia Wessels van Zijl invariably transports readers to a more poetic reality.

    Kaiings in Kaboel

    Die digter-sjef Zane Beswick het 'n heerlike artikel geskryf oor die Kaboem-maaltyd wat hy in Kaboel, die hoofstad van Afghanistan, moes maak.

    Errieda du Toit se knievrye witbrood in ‘n gietysterpan

    Errieda du Toit‘n Brood en ‘n baie spesiale bord.Die herdenkingsbord het ek in 1998 vir my Ma...

    Taal lawwigheid: Snuf in die neus kry

    Dis glo reg om te sê "Die snuf in die neus kry" eerder as "snuf in die neus kry." Ek sou verskil daarmee. Ek los altyd 'die' uit en dink dit klink beter so vir my.

    Gerook, gedrink, gerangskik

    In hierdie liriese essay skryf Lise Beswick oor 'n boom wat so groot is dat jy hom van die maan kan sien en blare wat kraak soos pakkies chips as jy oor hulle loop.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.