More
    Home Afrikaans Dinge hou nie

    Dinge hou nie

    Freedom Day in Lockdown klink soos ‘n fliek waarin Jean Claude van Damme sal speel, skryf die gewilde rubriekskrywer Lise Beswick. “In Eskom se Groot Opraak, Kláárraak van toerusting, in Virustyd en Swak Ekonomie, is ons almal êrens. En dis goed as jy weet waar.

    Lise Beswick. Foto: Verskaf

    Ek draai op my maag om te slaap. “Chiiing” hoor ek ‘n dun snaar-geluid in die matras se binneste.

    Dis skaars twee jaar en hy kraak en “doing” en wys dubbelken langs die kante.

    Alles gee in of raak op. Nuwe dinge ontstaan. Nie alles tot nadeel nie. Ek dink aan apps, DVD’s, fietsbande met slym wat die lewe makliker maak, langer hou, tyd – en geld spaar. Weggooi skeermesse en -doeke.

    Ek dink aan ou goed soos ‘n 1989 Volkswagen Jetta automatic wat net ‘n hupsprongetjie gee as sy ‘n stamp teen die modderskerm kry, geen duike nie, terwyl die nuwe karretjie lelike skade het.

    As die wasgoedseep, ketel of toaster ingee, het ek nie genoeg geld, tyd of lus om winkel toe te gaan nie. Met loadshedding en lockdown voel ek verlig dat van die keuses vír my gemaak word – en ek hoef nie skuldig te voel nie.

    Ek dink dikwels aan die weduwee se kruik. Sy kon skink en skink en die olie raak nie minder nie. Sê nou die tandepasta het nie opgeraak nie, ook nie die Sunlight Liquid of toiletpapier nie. Ook nie die teesakkies of katkos nie.

    Ek onthou, voor die dae van my gerieflike app, hoe ek saans met die fiets moes bank toe jaag om geld te gaan trek om krag te gaan koop by die kafee voor dit nege uur toemaak.

    Net om deur die stadig patrolerende polisievoertuig voorgekeer te word. “Waar is jou lig?” Moedeloos, moeilik: “Ek het nie ‘n lig nie.” “Nou, stoot.”

    Ek het paar treë gestoot, maar uit vrees vir te laat wees of dat iemand vir my of my fiets gaan gryp, suiker ek bank toe toe die wa om die hoek verdwyn.

    Lam bene, uitasem en met droë mond kom ek by die huis aan, so dapper en in beheer soos die leeutemmer in ‘n outydse sirkus.

    Dis hoekom ek hou van my fiets. En my foon. Hulle het my nog nooit in die steek gelaat nie. Half seesiek van kop draai tussen landscape en portrait beelde tussen krake deur terwyl ek kinders se take op WhatsApp lees en merk, voel ek in beheer. Ek ken haar nukke en grille en weet hoe om die beste uit haar uit te kry.

    Dieselfde met my fiets – die pedale se spin waar ek die cleets toe-oë inglip, die ratte se oorsit as die ketting haak, die bande se gevoel op die pad – alles is bekend.

    Dan is dit tyd vir ‘n nuwe foon, ‘n nuwe fiets, selfs ‘n nuwe tandeborsel – en dit vereis aanpassing.

    En tog, met hoeveel humor, gelatenheid en kreatiwiteit het die mens hierdie lockdown tyd, sonder genoeg sigarette, alkohol of vriende, oorleef.

    Dis soos in die ou dae, voor slym in die wiele, digitale kameras en e-posse. Jy moes wag tot iemand met ‘n kommetjie water, patch en solution jou band vir jou regmaak, wag vir ‘n film om ontwikkel te word, wag vir ‘n brief. Ons moet wag om weer ‘n drukkie te mag gee, werk of kerk toe te gaan. Wag.

    Die neute val en ek raak vies as ek nie by hulle kan verbyloop nie. Buk en optel, raak ek verlore oppad na die skilpad se waterbak. My sakke bol en ek moet eers gaan leegmaak. Dan terug na die eerste sending…Een van die dae val daar nie meer neute nie en staan die boom kaal.

    Net soos die persimmon boom. Sy het nog nooit so baie gedra nie en as die seisoen verby is en haar blare vuurgeel verkleur en vlam-oranje op die grond lê, moet ons ‘n seisoen wag voor ons weer die oorvloed het.

    Seisoene bring beloftes van voorsiening, versorging en voedsaamheid. . . Maar tandepasta en toiletpapier, krag en katkos se opraak werk nie in seisoene nie. Dit gebeur aldag, ontydig. ‘n Mens moet beplan, vroegtydig lysies maak, rantsoeneer en dink, maar die werk-likheid werk nie so nie.

    Een Nuwejaar staan ons in Malawi se warm reënseisoen met ons fietse onder ‘n boom en kyk hoe ‘n donderstorm naderkom. Sy sprei ook ‘n vaal karos soos Van Wyk Louw se Dans van ons Suster, maar dis ‘n sterker en swaarder karos.

    ‘n Netjies geklede vrou met ‘n Bybel nooi ons na haar huis. Sy ken die reën. Ek vra haar waaroor was die kerk. Sy antwoord uit Genesis: “Where are you?” Sy sê, “Hy weet waar ons is, maar hoe staan jou sake met jouself, met jou lewe, waarmee jy besig is, wat die gevolge gaan wees, hoe dit ander gaan raak?”

    Freedom Day in Lockdown klink, soos my vriendin sê, soos ‘n “B Grade movie with Jean Claude van Damme”. In Eskom se Groot Opraak, Kláárraak van toerusting, in Virustyd en Swak Ekonomie, is ons almal êrens. En dis goed as jy weet waar.

    Latest

    Hemingways Bookshop’s new chapter

    Hemingways Bookshop in Hermanus is celebrating its 25th anniversary this month. And it is doing so in the style that people have become accustomed to.

    If you’re a Braai Boet, head over here

    If you love a braai you'll probably enjoy the various braai threads on our Forum. The Faniebraai braai thread has a story to it. It's named after the late and much missed Faniebraai, who has been described by one of our Forum members as "larger than life.

    The grandeur of simple things

    Bredasdorp artist Weyers du Toit's paintings of humble objects take them to another level.

    Ek ruik ‘n rot

    Daar is 'n geheimsinnige indringer in haar hoenderhok, skryf Lise Beswick. Sy't 'n foto van die tonnel in die grond geneem. Is dit 'n vriend of vyand? Sy wens sy't 'n hoender- tolk sodat sy kan verstaan wat haar hoenders sê oor die wese.

    Water of Vodka…

    Was daar water of wodka in die ketel? Vind uit in hierdie heerlike storie deur die digter-sjef Zane Beswick.

    Clare Menck’s lyrical evocation of childhood

    Lockdown has not killed the arts. Well-known artist Clare Menck had proof of that when her art works sold briskly at a group exhibition in Rosebank, Cape Town, this weekend. The exhibition can still be viewed by private appointment.

    Bring on the magic potion! We’re gatvol of the virus!

    Lockdown diaries: Where is Getafix the druid when one needs him?

    Tippie Enslin se gebakte pere met heuning en balsamic

    Winter inspirasie: Tippie Enslin se gebakte pere is mooi genoeg om te skilder, en lekker daarby.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.