More
    Home Afrikaans Die limit

    Die limit

    In hierdie aangrypende essay besweer storieverteller Lise Beswick die coronavirus-blues. Sy doen dit met ongewone wapens: Muti-koffie en Toortee. Sy maak huis skoon en knip takke op terwyl sy probeer sin maak van leef in ‘n gevaarlike tyd.

    Lise Beswick. Foto: Verskaf

    Als irriteer my. Nou sit ek in die son en takke opknip vir vuurmaakhout vir die winter met ‘n buff om my nek wat ek kan opsit vir die virus.

    Totius sê in ‘n gedig “die wêreld is ons woning nie’. Hy’s verkeerd. In die ou wêreld, voor die virus, het mense gevis-en-chips op Absa se trappies, geslaap in parkies, gebraai in die koelte op die publieke swembad se groen gras. Tuis soos in ‘n eie huis.

    Nou is dit net jy en jou huis. Jy vee, maar niemand kom kuier nie. Jy is hondjaloers op hoe jou man sy dag begin – spring halfses op, rook behaaglik, drink koffie, scroll facebook in die ewigheid in. Jy vlie halfnege op en sien soos skote uit ‘n masjiengeweer, dit-dit-dit-dat wat gedoen moet word.

    Nou sit ek by die hoenderhok en bekyk die afskorting wat ek met kasdeure vir die Malawiër gemaak het. Soort van ‘n stoepie. Hy kan tog nie ál 21 dae net in sy kamer bly nie. Maar hy ís nie op sy stoep nie. En die kasdeure staan skeef.

    Die ou huise het nie kaste nie. Die wat ek aanskaf, verf ek dadelik en haal die deure af. Die lewe is ingewikkeld genoeg dat ek nog moet wonder wat agter toe deure aangaan.

    Jare het die agterdeur wawyd oop gestaan. Dag en nag. Nou is hy toe vir die skelms. Alhoewel, die gat vir Ceasar is so groot, ons kon netsowel die onderdeur afgehaal het.

    Ek kyk na die voorskoot op die wasgoeddraad. Ek drink my muti-koffie. Moringa, cayenne peper, gemmer en borrie saam gemoer in die plunger. En koffie. Met skuimmelk. ‘n Ontdekking wat my baie geld spaar.

    Ek sou my laaste geld vir ‘n cappuccino gee. Nou kan ek self skuim maak wat soos room lyk. En Toortee! Rooibos met dieselfde speserye en heuning. En skuim as ek uitspattig voel.

    As ek, wat nie kan kosmaak nie, eendag my eie restaurant oopmaak, sal ek muti-koffie en toortee bedien. Daarmee kuier jy lekker al is jou enigste stoel ‘n dik woordeboek. Want mense maak die huis. Armoede en rykdom lê nie in materiële dinge nie. Party mense is so arm, hulle het net geld, het iemand gesê. ‘n Huis wys jou waardes. Daar moet paintings en boeke wees, honde en katte, ‘n ingeleefde bank, genoeg toiletpapier en ‘n erf met goeters wat groei. Of een van die.

    As jou kinders so grootgeword het, sal hul ook ‘n matriekafskeidrok by Mr Price vir die prys van ‘n medium pizza koop – en asemrowend mooi lyk.

    Ek wonder wat die mense onder die brug in virustyd doen. Hulle het nie ‘n lourierboom oortrek met luis wat hul moet afsaag, of ou foto’s wat hul kan uitsorteer nie. Dalk het hulle dominoes en kaarte. Elke mens het ‘n plek wat hy huis noem.

    Die early bird wat al sesuur met die groot hond deur smal openinge om die huis gehardloop het, lê nou en slaap. Die buurman speel bal met sy hond in die tuin. Die voëls gesels in alle tale. Êrens brom ‘n motor.

    Die hoenders loop onbewus kop-vorentoe kop-agtertoe en kêk met geroeste stembande dat hul ‘n eier gelê het. Hul eiers se wit stol ‘sjoep’ in die pan. Loop nie soos water soos by ou eiers nie. Die geel is goudoranje en proe anders.

    Frangipani’s blom. Die granaat wat aan die boom was, was perfek. Die grenedellas soet en die slymerige pissimon slymerig.

    My foon het ge-crash na duisende boodskappe, videos, praatjies en ongevraagde inligting. Ek neem dit nie kwalik nie. Die oordosis stemme, raad en nuus het gemaak dat Universal studios se kenwysie op Netflix vir my gisteraand geklink het soos die sjofar waarna ek op my knieë vroeër geluister het.

    Die hoop takke het nie gesak nie. My gemoed wel. Mag die Here ons bewaar.

    Latest

    Hemingways Bookshop’s new chapter

    Hemingways Bookshop in Hermanus is celebrating its 25th anniversary this month. And it is doing so in the style that people have become accustomed to.

    If you’re a Braai Boet, head over here

    If you love a braai you'll probably enjoy the various braai threads on our Forum. The Faniebraai braai thread has a story to it. It's named after the late and much missed Faniebraai, who has been described by one of our Forum members as "larger than life.

    The grandeur of simple things

    Bredasdorp artist Weyers du Toit's paintings of humble objects take them to another level.

    Ek ruik ‘n rot

    Daar is 'n geheimsinnige indringer in haar hoenderhok, skryf Lise Beswick. Sy't 'n foto van die tonnel in die grond geneem. Is dit 'n vriend of vyand? Sy wens sy't 'n hoender- tolk sodat sy kan verstaan wat haar hoenders sê oor die wese.

    Water of Vodka…

    Was daar water of wodka in die ketel? Vind uit in hierdie heerlike storie deur die digter-sjef Zane Beswick.

    Clare Menck’s lyrical evocation of childhood

    Lockdown has not killed the arts. Well-known artist Clare Menck had proof of that when her art works sold briskly at a group exhibition in Rosebank, Cape Town, this weekend. The exhibition can still be viewed by private appointment.

    Bring on the magic potion! We’re gatvol of the virus!

    Lockdown diaries: Where is Getafix the druid when one needs him?

    Tippie Enslin se gebakte pere met heuning en balsamic

    Winter inspirasie: Tippie Enslin se gebakte pere is mooi genoeg om te skilder, en lekker daarby.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.