More
    Home Afrikaans Brief uit Napier Die Kat op die derde Verdieping en ander Gewaarwordinge

    Die Kat op die derde Verdieping en ander Gewaarwordinge

    Om jou tentpenne te verskuif is nie so eenvoudig nie. Mens moet dinge goed uitkyk. Vra maar vir Danie Botha wat voor sy trek na die platteland mense en diere – laasgenoemde sluit in Fat Cat en ‘n streepkat en die vet stadsduiwe – goed bestudeer het…

    Danie Botha. Foto: Verskaf

    Dit was destyds om vele redes nie ‘n maklike besluit om die stad te verlaat nie, maar na 10 jaar voel dit so ver in die verlede dat jy lank reeds al die wroeging agter jou gelaat het en jy weet dat die keuse daardie Desember die regte een was.

    Elke keer dat jy Desembers vir ‘n blitskuier terugkeer na die besige strate en hoë geboue toe is jy altyd maar verlig om weer die pad uit in die rigting van baie lig te vat. Uit die gewerskaf, tussen karre uit, tussen lawaai en te veel asems uit, terug na die lig wat wit oor bergtoppe, klipkoppe, bome, grasveld en kanola in Augustus en September val.

    Die pas tussen die malende menigtes is vinnig. Dit voel of die skare jou saamsleur, of jy meewoel. Sommiges stap vinnig, vooroor geboë, agter die een of ander doelwit aan. Een leun teen ‘n winkelmuur en dryf op potent dagga en ander goed, die bofbalpet vol vetkolle skeef op sy toiinghare, die een langs hom hou ‘n plant wat hy êrens ontwortel het na jou uit, en jy’s nie seker of hy dit aan jou bied as vredesoffer vir die mensdom se vergrype en of hy hoop julle kom op ‘n prys ooreen nie.

    By die ingang van ‘n eetplek op Main Road trap vet, verbasterde posduiwe mekaar uit die pad hier langs jou voete om by ‘n paar broodkrummels en ander afval uit te kom. Die jong denneboom in die binnehof se blare blink ‘n winkelgroen en die gekleurde balle wat tussen die takke hang is skelpienk en blinksilwer – maar sonder lig en eintlik dood. Seker Christmas in July. By die tafel langsaan sit ‘n man en vrou teenoor mekaar. Haar ring sê hulle is getroud. Albei alleen. Sy hare is grys, haar mondhoeke stroef. Hulle staar stil by mekaar verby. Die geneentheid wat eens geheers het, voel jy aan, het lank gelede reeds gesterf.

    Taxis skril verby en tussen die harde doef-doef musiek hoor jy nou en dan “Kyp Touwn Kyp Touwn Kyp Touwn!” Buite ‘n restaurant voer twee spreeus hulle jong kroos terwyl die kleintjies ‘n yslike keel opsit. Hulle steur hulle nie aan my en my selfoon wat hulle kiek nie. Hulle is presies waar hulle moet wees. Hulle is opregte stadsvoëls en sal nie aard op my werf tussen die denne nie.

    Op so ’n besoek word ek herinner aan die streepkat wat soms by my op die stoep kom kuier waar ek tussen hoё denne en bloekoms in die omhelsing van blou en pers berge, en in die skoon lug van mistige valleie in die winter, dynserige, droё velde in Januarie woon, waar ek hom soms tuna voer, al bly hy sku om aangeraak te word. Maar tog: Ons is mekaar gewoond, en hy sal hier op die stoep lê, sy pels lek en af en toe kwyl vir die kwikkies by die voёltjiebad, tot hy moeg gekuier is en dan selfversekerd wegloop rivier se kant toe; ek dink nie hy het huis nie, maar hy is street wise, en uit sy houding weet jy hy sorg vir homself en dat die krapmerke oor sy neus en die skeur in die linkeroor maar net getuie is van ’n geleefde lewe. Hy is die alleenkat met oop ruimtes in sy dae en die geur van veld in sy neus, die een met sy geel oё skrefies getrek teen die lig, die pupille wyd op die jag.

    Waar ek in die stad oorbly, woon ‘n mooi, groot grys kat – sy naam is Fat Cat – op die derde vloer van die woonstelblok. Hy hang gewoonlik buite rond, jag snags Seepunt se muise en keer soggens terug nadat hy die omgewing se mannetjies op ‘n hoop gejaag het. Hy wag dat jy sy maag krap en sy ore vryf, hom vertel hy’s ’n meneer. Hy stap by die skuifdeur van die foyer saam met jou verby na die hysbak toe en kyk op as jy nommer 3 druk. Dis waar hy sal afklim terwyl jy self hoër reis.

    Op die derde vloer lig hy sy stert tevrede as die hysbak vir hom stilhou en die deur oopskuif. Sonder groet stap hy uit en draai links na sy mense se woonstel terwyl jy na die twaalfde vloer toe aanry. Die kat is tevrede. Sy plek is die stad. Ek weet by my op die werf sal hy sy oë op skrefies trek en sy naels bly kou, sy kloue oefen en grom vir die vreemde geluide van tortels en bobbejane rondom en wag om te ontsnap. Stad toe.Hy wil karre hoor, mense in die strate hoor stry, bottles hoor breek, taxis sien verbyskreeu en op die derde vloer van sy woonstelblok sy lenige lyf voor die TV gaan uitstrek, dalk hoop daar kom ‘n Tom & Jerry op, of iets oor leeus op National Geographic. En sy pels stadig lek voor hy hom in ‘n gemaklike posisie rangskik. Die kat is waar hy moet wees.

    Hy wil nie op my reise na die platteland terug by oop velde, herkouende vee en kluitgrond waarin April en Mei geplant word verbyry nie. Hy wil op ‘n sagte rusbank in die stad in ‘n mooi vetrek met kandelare wat laag uit die plafon hang, ‘n vertrek met duur skilderye teen die mure, aan die slaap raak.

    Hy wil op die derde vloer uit die hysbak stap. My stoep langs malvabeddings, my werf tussen die denne sal die fut uit hom haal. Sy kreet sal teen die koppe opklim en hartseer oor die berge weerklink. Hy is die Fat Cat stadskat. Nie soos die streepkat wat af en toe met die veld in sy pels, met die tred van ’n jagter by my kom kuier nie. Elkeen op sy plek. Fluweelbank in die stad. Oop stoep in die bos.

    Danie Botha is ‘n skrywer en taalpraktisyn wat op ‘n plaas buite Napier woon, naby bome waardeur die wind suis. Soms is daar ‘n brand. Soms is daar ‘n slang op die stoep. Dit kom met die terrein, wat storie verteller-terrein is. Vind meer uit oor Danie Botha by Danie Botha Language Services Taaldienste.

    Latest

    Medical aid: Eish!

    Medical aids. Don't talk to her about them! So complains a reader of The Grotto, who is battling her medical aid at this very moment.

    Poem

    Mia Valodia Wessels van Zijl invariably transports readers to a more poetic reality.

    Kaiings in Kaboel

    Die digter-sjef Zane Beswick het 'n heerlike artikel geskryf oor die Kaboem-maaltyd wat hy in Kaboel, die hoofstad van Afghanistan, moes maak.

    Errieda du Toit se knievrye witbrood in ‘n gietysterpan

    Errieda du Toit‘n Brood en ‘n baie spesiale bord.Die herdenkingsbord het ek in 1998 vir my Ma...

    Taal lawwigheid: Snuf in die neus kry

    Dis glo reg om te sê "Die snuf in die neus kry" eerder as "snuf in die neus kry." Ek sou verskil daarmee. Ek los altyd 'die' uit en dink dit klink beter so vir my.

    Gerook, gedrink, gerangskik

    In hierdie liriese essay skryf Lise Beswick oor 'n boom wat so groot is dat jy hom van die maan kan sien en blare wat kraak soos pakkies chips as jy oor hulle loop.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.