More
    Home Afrikaans Die boek in die kas

    Die boek in die kas

    Mense wat wat op skool Afrikaans kon neem by Lise Beswick vertel dat sy hulle geïnspireer het om te skryf. Dieselfde inspirasie is te sien in hierdie wonderlike rubriek oor die enigma van naaldwerkdoen.

    Lise Beswick. Foto: Verskaf

    Die gang en die kas was effens donker. Jy moes mooi staan om die linne of handdoeke uit die kas te kon kry. 

    Dáár was die boek. Dik en slap en swáár. Groter as A4-formaat. Met glansblaaie. Op elke bladsy getekende prente van vrouens met allerhande modieuse klere. In die 1960’s. 

    Die boek was soos ‘n skat. ‘n Geheim vol towerformules. Ek weet nie hoekom my ma die boek daar gebêre het nie . . .

    En nie een van daardie formules het sy betowering vir my behou nie. Eers was daar die ure, ek glo dit was minute, maar ure wat ek sta-a-dig in die rondte moes draai op die ronde hout eetkamertafel sodat my ma die soom kon steek. Speld vir speld. Dan dié kant hoër, daardie kant bietjie sak. Ek wou naar word. Flou val. Ek kon dit net nie hanteer nie.

    Toe kom skoolnaaldwerk. Die geruite blou en wit lappie waarop ons al om die ander blokkie ‘n rooi X moes uitwerk. En die volgende ry al op die ander blokkie ‘n reguit stekie die lengte van die blokkie. Bo-oor onderdeur. Bewaar jou siel as jy nie die naald presies in die hoekies ingesteek het nie. En dan moes twee sye van die lappie uitgerafel word, om fraiings te maak. Ek voel nou nog die benoudheid, die vrees … 

    Miskien kon die juffrou musiek gespeel het, of die sin van dit alles verduidelik het. Ek het met ‘n ma grootgeword wat die groot metaal skêr laat girrr girr vibreer het op die houttafel soos sy die materiaal op die patroon se vaalgeel papierlyn knip, die Singer se liggie met ‘n klak aangesit het en haar voet presies lig en swaar laat trap het op die bruin pedaal. 

    Ek weet nie waar die afkeer van en rebelsheid teenoor naaldwerk doen begin het nie. Dalk die vuil breiwerk met ‘n onpraktiese geel dunwol op twee metaal sosatie pennetjies, skerp aan albei kante. Die steke het so styf om die penne gesit, dat elkeen met mag en geweld oor die punt getrek moes word. Dis ‘n wonderwerk dat die wol nie gebreek het nie.

    Miskien was die gaping tussen my ma se inspanninglose breiwerk terwyl sy gesels of stories luister, en my versukkelde poging wat met gate geleidelik wyer loop na die pen toe soos die steke onverklaarbaar vermeerder, te groot. Miskien was die vreesloosheid waarmee sommige grootmense die steke van die pen afgetrek het om die verlore steek te gaan optel, net een te veel. En die purl en die plein of die Nazi marsjeer-terme, regs en aweregs, waarvan ek nooit kon weet met watter soort steek ek moet begin nie, te oorweldigend ver verwyderd van die realiteit.

    Ek dink sy moes die kinderrokkie, ook ‘n dowwe geel met ‘n patroontjie, skelm vir my klaarmaak. Ek kan nie onthou nie. Ek weet net die naaldwerkboks, ‘n oorgetrekte skoenboks, het op die klas se vensterbank in die son staan en verbleik.

    Ek het my ma beny wanneer sy in die materiaalwinkel die rolle met kennis en passie streel en elke materiaalsoort by die naam noem. Ek het die behendige opswiep van die woldraad met die pinkie voordat sy die tou ritmies om die voorpunt van die breipen swaai, bewonder. Die glaspot vol knope het my ure besig gehou. Die kraaines van kleur in die garing-mandjie. 
    En die gevoel van bekwaamheid en bemeestering, nóu nog, as ek die garing deur die naald se oog kry, is dáár. 

    Ek het ‘n naaimasjien, my vorige man s’n – hy kon troupakke en bikini’s maak, en my jongste het my ma se Singer. Ons almal kan naaldwerk doen, maar vir knoei kry ek eerste prys.
    ‘n Mens kan nie haastig of sommer so tussen-in naaldwerk doen nie. Jy moet gefokus en toegewyd wees.

    En ek is. Maar behoede die lappe wat met teksture en kleur my oog vang. Hulle word haastig, voor iemand my keer, gemáák pas en gestik en is in hul uniekheid onnabootsbaar.
    Ek dink ek het nie ‘n naaldwerk-gewete nie.

    Latest

    Hemingways Bookshop’s new chapter

    Hemingways Bookshop in Hermanus is celebrating its 25th anniversary this month. And it is doing so in the style that people have become accustomed to.

    If you’re a Braai Boet, head over here

    If you love a braai you'll probably enjoy the various braai threads on our Forum. The Faniebraai braai thread has a story to it. It's named after the late and much missed Faniebraai, who has been described by one of our Forum members as "larger than life.

    The grandeur of simple things

    Bredasdorp artist Weyers du Toit's paintings of humble objects take them to another level.

    Ek ruik ‘n rot

    Daar is 'n geheimsinnige indringer in haar hoenderhok, skryf Lise Beswick. Sy't 'n foto van die tonnel in die grond geneem. Is dit 'n vriend of vyand? Sy wens sy't 'n hoender- tolk sodat sy kan verstaan wat haar hoenders sê oor die wese.

    Water of Vodka…

    Was daar water of wodka in die ketel? Vind uit in hierdie heerlike storie deur die digter-sjef Zane Beswick.

    Clare Menck’s lyrical evocation of childhood

    Lockdown has not killed the arts. Well-known artist Clare Menck had proof of that when her art works sold briskly at a group exhibition in Rosebank, Cape Town, this weekend. The exhibition can still be viewed by private appointment.

    Bring on the magic potion! We’re gatvol of the virus!

    Lockdown diaries: Where is Getafix the druid when one needs him?

    Tippie Enslin se gebakte pere met heuning en balsamic

    Winter inspirasie: Tippie Enslin se gebakte pere is mooi genoeg om te skilder, en lekker daarby.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.