More

    Detail

    “Ek kyk nou die dag na ‘n mot op die vensterbank,” skryf Lise Beswick in hierdie poëtiese rubriek waarin sy die klein goed van die lewe herkou, en tot die slotsom kom dat hulle eintlik groot is. Ons, wat gelukkig genoeg is om haar skryfwerk te lees, kan net saamstem.

    Lise Beswick. Foto: Verskaf

    Sy sit agter in die motor.
    “Jy moet sê hoe ek moet ry.”
    “Hier voor moet tannie draai.”
    “Links of regs?”Dis ‘n T-aansluiting.
    “Tannie kan opdraai.”
    Op? Watter kant toe is op.
    “Links of regs?”
    “Net hier voor moet Tannie draai.”
    Ek weet nog steeds nie watter kant is ‘op’ nie. Kan die kind nie maar net ‘links’ of ‘regs’ sê nie. Die verkeer beweeg. Die karre kom vinnig.

    Êrens leer mense om besonderhede mis te kyk en mis te praat. As ‘n juffrou vir ‘n kind vra om ‘n boom te teken, behoort die kind te vra: “Watter boom?”, want nie een boom lyk dieselfde nie. Goed wat in ‘n fabriek gemaak word, is identies. Maar nie tuisgemaakte, handgemaakte goed nie. En alles in die natuur is Handgemaak.

    Soos ‘n voëlnessie. Die betowering as jy die sagte veertjies binne-in sien – die ontsteltenis by die gedagte aan die klein voëltjies wat dalk saam uitgewaai is. En ek besef as ek terugdink aan die warm gevoel as ek voëlnessies gevind het, ons almal soek ‘n nes. ‘n Plek waar hy hoort en veilig is.

    Vir die perfeksioniste wat kan sien as ‘n takkie uit plek is, is dit ‘n vinknes. Die kunstenaars bou met klei aan hul swaeltjienes. Die dromers met meer guts as verstand bou neste soos visarende met stokke en takke in hoë mikke. Die moeilike mense met eintlike groot harte bou die volstruisneste. Die oorbeskermde ma’s wat op almal afduik om haar kinders te beskerm, bou die kiewietnes en die avonturiers, die Everest-klimmers, Noordpool-stappers, om-die-wêreld roeiers, bou die hoê arendneste teen die kranse. Maar elke nes word met unieke en komplekse detail gebou.

    Detail is belangrik. Die vrou wat die kraletjies op die trourok vaswerk, die kok wat die koek versier, die een wat hare knip, die IT-man, argitek – elke spesialis het sy gebied waar hy met fyn besonderhede werk.

    Ek kyk nou die dag na ‘n mot op die vensterbank – ‘n stowwerige insek wat ek met een vingerhaal in ‘n poeierkol kan verander. Die patrone op sy vlerke is in keurige detail vasgelê.

    Wanneer hou ons dan op om dit raak te sien? Miskien moes ons net almal ‘n wit streep soos Barney die dinosourus vir tande gehad het. En vir oë net ‘n soutie-albaster sonder lieflike kleure. Of vingers sonder naels soos ‘n geitjie. Dan was die besonderhede nie so vermors nie.

    Vra jy vir die kinders om oor ‘n kat te skryf, is hul verontwaardig. “Dis graad 1 werk.” “Nou skryf dan as dit so maklik is.” “Juffrou, ‘n kat is ‘n kat.”

    Hoekom skryf hulle nie van die groot swart pupille wat die albaster vol lê nie, die Cleopatra-lyne wat langs die oë tot ‘n punt getrek word, die kloue wat in jou sagte vleis inslaan as jy haar kop krap, die stert wat soos ‘n leeu s’n kwispel as sy wil baklei, haar tong wat krul as sy wyd gaap.

    Toe ek op ‘n dag lus was om ‘n Lemon Meringue tert te bak, het ek haarfyn geweet wat om te doen.

    Kleintyd het ek by die kombuistafel gesit as Ouma die eiergele met die handklitser geklits het, die konsensmelkblikkie met ‘n blikoopsnyer met driehoeklem en polsbeweging oopgesny het dat die blik se deksels skerp tandjies maak, suurlemoenskil met ivoorhefmes van die binnekant van die rasper se growwe puntjiekant afgekrap het. Nooit het sy vir my die resep gewys of verduidelik nie.

    Al kyk jy nie bewustelik fyn nie, sal jy tog dit wat jy baie sien, herken. Soos ‘n Zebra vulletjie sy eie ma se strepe herken. Die grenedellabloeisel wat soos ‘n hoogs komplekse ‘drone’ lyk, die opskeplepel wat se holkant en bolkant jou gesig onderstebo en regop weerkaats.

    Google en Youtube het wonderliker dinge om na te kyk. En die tert by Loretta’s is makliker om te kry.

    Leef maar op ander spesialiste se waarnemings, maar sê net vir my ‘links’ of ‘regs’ asseblief.

    Latest

    Hemingways Bookshop’s new chapter

    Hemingways Bookshop in Hermanus is celebrating its 25th anniversary this month. And it is doing so in the style that people have become accustomed to.

    If you’re a Braai Boet, head over here

    If you love a braai you'll probably enjoy the various braai threads on our Forum. The Faniebraai braai thread has a story to it. It's named after the late and much missed Faniebraai, who has been described by one of our Forum members as "larger than life.

    The grandeur of simple things

    Bredasdorp artist Weyers du Toit's paintings of humble objects take them to another level.

    Ek ruik ‘n rot

    Daar is 'n geheimsinnige indringer in haar hoenderhok, skryf Lise Beswick. Sy't 'n foto van die tonnel in die grond geneem. Is dit 'n vriend of vyand? Sy wens sy't 'n hoender- tolk sodat sy kan verstaan wat haar hoenders sê oor die wese.

    Water of Vodka…

    Was daar water of wodka in die ketel? Vind uit in hierdie heerlike storie deur die digter-sjef Zane Beswick.

    Clare Menck’s lyrical evocation of childhood

    Lockdown has not killed the arts. Well-known artist Clare Menck had proof of that when her art works sold briskly at a group exhibition in Rosebank, Cape Town, this weekend. The exhibition can still be viewed by private appointment.

    Bring on the magic potion! We’re gatvol of the virus!

    Lockdown diaries: Where is Getafix the druid when one needs him?

    Tippie Enslin se gebakte pere met heuning en balsamic

    Winter inspirasie: Tippie Enslin se gebakte pere is mooi genoeg om te skilder, en lekker daarby.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.