More
    Home Afrikaans Bubbles en belle betower

    Bubbles en belle betower

    Daar is iets magies omtrent rondinge. Maak nie saak of dit nou ‘n seepbel of ‘n swanger maag of ‘n oogbal of ‘n borrel in ‘n Aero tjoklit is, skryf Lise Beswick in hierdie liriese rubriek.

    Lise Beswick. Foto: Verskaf

    Kleurvolle M&M’s en grasgroen ertjies is rond. So ook die glinsterende bal van my oog en die roomkleurige maan. Die vuurspuwende musiekmakende voortsnellende planete, blou bessies en bloedrooi tamaties ook.

    Maar die opwindendste sfeer (behalwe ‘n bal miskien) is ‘n seepbel, ‘n bubble.

    Die betowering wat die drie-dimensionele vorm inhou, is vars en nuut asof dit elke keer die eerste keer is wat jy dit beleef. Ek is opgewonde elke keer as ek aan die gewiglose, deurskynende, swewende bal vorm gee of dit aanskou.

    Dit lyk soos ‘n huisie van silwerskoon glas waarin ‘n mens kan sweef en van bo af op alles kan neerkyk. Dit lyk veilig en sterk asof selfs reën en hael dit nie sou kon beskadig nie.

    Die sfeer is ‘n betowerende vorm. Dis sag op die oog, bevredigend om na te kyk. Aangenaam om te hanteer ook – dit pas perfek in die palm van jou hand.

    Deur dit te gooi, skop, rol of slaan verskaf dit ure se hipnotiserende vermaak. Skares juig, spanne duik, rol, fynkam en fnuik mekaar om ‘n ronde vorm in ‘n sekere rigting te stuur.

    Die klapgeluid van ‘n krieketbal teen ‘n kolf of die diepkeel klok-klok van pool-balle teen mekaar is fassinerend mooi.

    ‘n Swanger vrou se ronding is goddelik gevorm. ‘n Vierkantige maag sou heelwat slytasie van hoeke en meubels meebring, aangesien dit ‘n nuwe tydelike vorm is.

    As dit by kos kom, bevredig die rondinge die oë, proe en vat-sensasies. Of dit ‘n scoop roomys of waatlemoenballetjies is, of druiwekorrels waaruit die sous spat wanneer jy dit stukkend byt of die stadige kleiner suig van ‘n groot ronde soet stokkielekker – dit bly opwindend.

    Die lugborrels in die bruin vleis van ‘n Aero sit dit in ‘n tekstuur van ‘n ander klas. Net so maak dit van die koffie met skuimmelk ‘n belewenis.

    Wolke skuim op stoomwarm water vertroos, bederf, ontspan, vernuwe die gemoed en gee ‘n tweede asem. Dit streel probleme weg en maak jou ryk en vervuld.

    ‘n Seepbel se leeftyd is kort. ‘n Mens probeer hulle altyd vang – en dan breek hulle. As iets breek, skrik jy, of jy’s hartseer, of teleurgesteld, of bang jy kry raas.

    Maar nie met ‘n seepbel nie – dit kan maar breek. Die mooi was daar vir ‘n kort rukkie, maar die vreugde bly soos ‘n reënboog wat elke keer verras en betower.

    Die stukkie reënboog op die seepbel reflekteer in duisend skitterdruppels op jou trane en die water in jou lyf.

    Hang net af hoe die lig val.

    Die skrywer is ‘n storieverteller en oud-onderwyser van Bredasdorp. Sy hou van skryf, spit en lekker soen. Verder hou sy ook van kinders leer en fietsy. Lekker gesels en ‘n koue bier op sy tyd. Sy hou van eenvoud en die liefde.

    Latest

    Medical aid: Eish!

    Medical aids. Don't talk to her about them! So complains a reader of The Grotto, who is battling her medical aid at this very moment.

    Poem

    Mia Valodia Wessels van Zijl invariably transports readers to a more poetic reality.

    Kaiings in Kaboel

    Die digter-sjef Zane Beswick het 'n heerlike artikel geskryf oor die Kaboem-maaltyd wat hy in Kaboel, die hoofstad van Afghanistan, moes maak.

    Errieda du Toit se knievrye witbrood in ‘n gietysterpan

    Errieda du Toit‘n Brood en ‘n baie spesiale bord.Die herdenkingsbord het ek in 1998 vir my Ma...

    Taal lawwigheid: Snuf in die neus kry

    Dis glo reg om te sê "Die snuf in die neus kry" eerder as "snuf in die neus kry." Ek sou verskil daarmee. Ek los altyd 'die' uit en dink dit klink beter so vir my.

    Gerook, gedrink, gerangskik

    In hierdie liriese essay skryf Lise Beswick oor 'n boom wat so groot is dat jy hom van die maan kan sien en blare wat kraak soos pakkies chips as jy oor hulle loop.
    NEWSLETTER

    SIGN UP

    Do you want to get the latest news from The Grotto? Enter your email address and click subscribe.